Cameron moet paai ná EU-uitlatings
2013-01-24 17:53
Davos, Switserland – Brittanje se premier, David Cameron, het Donderdag gesê Brittanje draai nie sy rug op Europa nie.
Dit volg nadat hy sy vennote in die Europese Unie (EU) ontstoke gemaak het toe hy planne vir ‘n referendum oor lidmaatskap bekendgemaak het.
Cameron het volgehou dat sy voorneme in ‘n toespraak Woensdag in Londen, dat die Britte teen die einde van 2017 oor die kwessie kan stem, nie buitelandse beleggers sal afskrik nie.
“Dit gaan nie daaroor dat ons ons rug op Europa draai nie – eintlik is dit die teenoorgestelde,” het Cameron aan die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos gesê.
“Dit gaan oor hoe ons ‘n saak maak vir ‘n meer mededingende, oop en buigbare Europa en om Brittanje se plek daarbinne te verseker.”
Cameron het volgehou dat dringende hervomings in die EU nodig is.
“Wat ek voorstel is nie net verandering vir Brittanje nie, maar ook verandering vir Europa,” het die Britse premier gesê.
“Ons moet eerlik wees oor ons vertoning. Ons raak agter in die wêreld. Ons oor-reguleer ons ondernemings, ons voeg te veel by hul kostes by. Ons laat ons burgers agter.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP