Cameron in pekel ná besnoeiings aan leër
2010-11-19 09:00
Den Haag - ’n Vernietigende verslag wat die “amateuragtige” wyse oopvlek waarop die Britse regering die onlangse weermagbesnoeiings gehanteer het, het mnr. David Cameron, premier, se kabinet in ’n groot verleentheid gebring.
Die verslag, wat glo deur hoë offisiere en senior amptenare opgestel is, is gister deur die konserwatiewe Daily Telegraph onthul. Dit is opgestel op versoek van die minister van verdediging, dr. Liam Fox.
Cameron sal vandeesweek voor die staande komitee oor verdediging verantwoording oor die saak moet doen. Fox het hom egter van die verslag gedistansieer en beweer dit dra geen gewig nie omdat dit deur “junior offisiere” opgestel is.
Volgens die vertroulike dokument is die besluitnemingsproses oor die besnoeiings met groot haas deurgevoer, sonder dat die gevolge behoorlik deurdink is.
Bowendien het Cameron alle kommunikasie daaroor met die weermagleiding verbied uit vrees dat dit aan die media kon uitlek, met die gevolg dat die bevelvoerders bitter min invloed op die proses kon uitoefen.
Voorleggings uit weermag-geledere is eenvoudig geïgnoreer. Senior offisiere het vergeefs gewaarsku dat dit die moreel van die weermag ernstig gaan aantas.
Nie alleen is geen poging aangewend om die weermag se steun te wen nie; Brittanje se bondgenote is ook nie geraadpleeg nie. Die verslag plaas die skuld vierkant op die skouers van Cameron en sy burgerlike amptenare, wat die proses gedryf het. Fox het in ’n stadium gedreig om te bedank as die besnoeiings te erg is, maar sy dreigement is nie uitgevoer nie.
Volgens die verslag sou ’n besinningsperiode van ses tot nege maande om oor die besnoeiings te besluit beter gewees het. Die “vertroue en moreel van ons personeel” is kwaai deur die besnoeiings aangetas, lui die verslag.
Van buite is ernstige kritiek op aspekte van die besnoeiings uitgespreek, onder meer op die besluit dat Brittanje tot 2019 geen operasionele vliegdekskip sal hê nie.
- Die Burger