Cain nie meer op pad na Withuis
2011-12-03 22:30
Washington – Bewerings oor 'n buite-egtelike verhouding het uiteindelik die politikus Herman Cain se kanse om die Withuis sy tuiste te maak, verongeluk.
Cain se presidensiële veldtog het Saterdag ná vele probleme finaal ontspoor, en hy het aangekondig dat hy nie meer sal meeding om een van die magtigste mans in die wêreld te word nie.
Die groot keerpunt vir Cain se veldtog het gekom toe Ginger White, 'n sakevrou van Atlanta, beweer het dat sy en Cain vir 13 jaar 'n seksuele verhouding gehad het.
Dit was egter nie al terugslag vir sy veldtog nie: Verskeie vroue het hom intussen beskuldig van seksuele teistering, hy het die VSA se beleid in Libië vergeet tydens 'n video-onderhoud, en hy was nie seker watter taal in Kuba gepraat word nie.
'n Voormalige veldtogbeampte het ook aan die nuusagentskap Reuters onthul dat Cain se veldtog agter die skerms gekenmerk is deur probleme met sy skedule en groot uitgawes vir onder andere privaat stralers.
"Die mense wat Cain in sy vertroue geneem het om hom van raad te bedien is skuldig aan politieke wanpraktyke," het die voormalige amptenaar gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters