Buurman vas vir moord op sesjarige
2012-11-27 12:32
Bentonville, VSA – Die polisie in Bentonville het gesê dat hulle Maandagaand ‘n man in hegtenis geneem het in verband met die moord op ‘n sesjarige meisie wie se lyk twee dae voor Dankseggingsdag gevind is.
Jersey Bridgeman is die oggend van die 20ste November as vermis aangemeld en haar lyk is gou in ‘n verlate huis, net twee huise van haar eie ouerhuis af, gevind.
Jon Simpson, polisiehoof in die gebied, het gesê dat Zachary Dewayne Holly, die familie se buurman, op aanklagte van moord, ontvoering en huisbraak in Bentonville aangehou word.
Hy het bygevoeg dat Holly Woensdag in die hof sal verskyn.
Simpson wou nie enige inligting bekend maak oor hoe Jersey vermoor is nie. Hy het ook nie gesê wat die polisie na Holly gelei het nie.
Jersey se dood volg sowat ‘n jaar ná aanklagte van mishandeling teen haar pa en stiefma aanhangig gemaak is. David Bridgeman, Jersey se pa, het glo sy dogter aan ‘n kas vasgemaak ná sy met medikasie in die huis gespeel het.
David en Jana Bridgeman, Jersey se stiefma, het albei skuldig gepleit op aanklagte van onder andere die mishandeling van 'n minderjarige.
Jana dien tans ‘n vonnis van 12 jaar tronkstraf uit, terwyl David 'n vonnis van 18 jaar uitdien.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP