Burka verban uit Bangladesj-hospitaal
2010-03-22 22:44
Dhaka – Bangladesj se grootse staatshospitaal het werkers verban om burkas wat die hele gesig bedek te dra nadat diefstal van selfone en beursies uit hospitaalsale toegeneem het, het ‘n hoof van die hospitaal Maandag gesê.
Vroulike werknemers is verplig om standaard uniforms te dra wat nie die gesig of hare bedek nie terwyl hulle aan diens is by die Bangabandhu mediese universiteit hospitaal in Dhaka, het die senior administrateur, Abdul Majid Bhuiyan, gesê.
“Ons het besluit om ons uniform reëls toe te pas nadat ons gevind het dat daar gevalle van diefstal is deur werknemers wat burkas dra,” het hy gesê.
Slegs ‘n klein hoeveelheid vroue wat by die hospitaal werk dra die burka wat die hele gesig bedek, het hy bygevoeg.
“Dokters het ook gesê dat vroue met burkas wat op publieke busse na die hospitaal ry en dan nie die uniform aantrek nie, siektes by die hospitaal kan inbring,” het hy gesê.
Bangladesj het die wêreld se vierde grootste Moslem populasie.
- Sapa-AFP