Buitelanders se klasgelde gaan nie styg
2011-05-15 07:18
Londen – Universiteite in Brittanje is desperaat om internasionale studente te behou te midde van ’n herrie oor die reuse-verhoging van universiteitsgelde hier aanstaande jaar en die Britse regering se pogings om studentegetalle te beperk.
Sowat 1 500 Suid-Afrikaners studeer aan universiteite in Brittanje.
Prof. Steve Smith, president van Universities UK, die liggaam wat al die universiteite verteenwoordig, het die afgelope week gesê internasionale studente word nie geraak deur die regering se besluit om studiegelde te verdriedubbel nie.
Britse studente betaal hoogstens £3 200 (sowat R36 000) klasgeld per jaar, maar gaan van volgende jaar tot £9 000 (meer as R100 000) moet opdok.
Studente van buite die Europese Unie, insluitend dié van Suid-Afrika, betaal egter lank reeds buitensporige gelde en word as winsgewend beskou deur die universiteite in Engeland.
Volgens Smith is die studiegeld vir internasionale studente gemiddeld £10 500 per jaar (amper R120 000) vir voorgraadse kursusse.
Sommige universiteite, soos Imperial College London, vra egter tot £26 000, ’n verbysterende R293 000, vir laboratorium-kursusse.
Volgens Smith gaan die studiegelde vir internasionale studente nie ook verdriedubbel nie, maar bly soos dit is en dit sal slegs jaarliks styg om tred te hou met inflasie.
Die regering moes planne laat vaar om studentegetalle te beperk ná vertoë van die universiteite.
Meer as 400 000 internasionale studente studeer in Engeland.
R120 000 per jaar is wat buitelandse studente gemiddeld in Brittanje opdok.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport