Buidelrot-gooi-kompetisie veroordeel
2010-09-22 12:19
Wellington (Nieu-Seeland) – Diereregtegroepe in Nieu-Seeland het ‘n skool wat ‘n buidelrot-gooi-kompetisie gereël het, fel gekritiseer.
Die diereregtegroepe het die geleentheid as “moreel verkeerd” beskryf.
Volgens die Nieu-Seeland Royal Society for the Protection of Animals (RSPCA) is die kompetisie onaanvaarbaar.
Deelnemers swaai ‘n dooie buidelrot aan sy stert en gooi hom so ver as moontlik.
Danny Auger, bestuurder van die RSPCA, sê hy het drie klagtes oor die kompetisie by Colyton Skool ontvang en sal sy besorgdheid daaroor met onderwysers bespreek.
“Dis tegnies gesproke nie onwettig nie, maar dis moreel verkeerd om ‘n dooie dier rond te gooi,” het Auger aan die media gesê.
“Dis tyd dat mense wakker skrik en besef dit is 2010 en dat dié soort ding nie meer moet gebeur nie.
“Dit is ‘n argaïese praktyk wat gestop moet word,” het Auger gesê.
Volgens Auger sal kinders begin om honde en katte aan hul sterte rond te swaai en dink dit is ook aanvaarbaar.
Volg Nuus24 op Twitter.