Brown se vlammetjie brand al hoe flouer
2010-05-03 07:13
Londen. – Die Britse premier, Gordon Brown, het misluk in sy poging om kiesers te betower en dit lyk of sy dae in Downing Street getel is.
Die aanloop tot die verkiesing is oorheers deur die eerste voorverkiesingsdebat nóg op TV. Dit was vooraf duidelik dat die stugge Brown gaan sukkel teen sy charismatiese, jonger teenstanders David Cameron en Nick Clegg.
Min mense kon egter voorspel dat Brown se stekelrige persoonlikheid so dramaties ontbloot sou word as toe hy betrap is dat hy ’n bejaarde weduwee ’n “skyn- vroom vrou” noem nadat sy hom oor immigrasie gekonfronteer het.
Cameron, leier van die Konserwatiewe Party, het gehoop op ’n stewiger voorsprong, maar dit lyk of hy steeds die binnebaan het.
Cameron was die gunsteling vir die debatte, maar sy vertoning het baie kiesers teleurgestel.
Hulle is van mening dat hy te glad van mond en voorbereid is. Die Tories se boodskap van verandering ná die skandaal oor die uitgawes van wetgewers en die kwaai resessie is deur Clegg van die Liberaal-Demokrate gebruik om sterk te vertoon.
Die Tories mag dalk voorloop in die meningspeilings, maar nie met die dubbelsyfers wat hulle verlede jaar maande lank geniet het nie.
Hulle sal in die laaste paar dae hard moet werk, terwyl praatjies van ’n nuwe regering sonder ’n volstrekte meerderheid die ronde doen.
Die konserwatiewe leier se agtergrond?–?hy is glo ’n afstammeling van koning William IV?–?het gelei tot beskuldigings dat hy te bevoorreg is om die gewone Brit se probleme te begryp.
Clegg het die afgelope paar weke meteoriese opgang gemaak en sy party beklee tans die tweede plek in meningspeilings.
Die 43-jarige Clegg is verlede week in ’n peiling glad aangegee as die gewildste Britse leier sedert Sir Winston Churchill.
– Sapa-AFP.