Brown se blaps dalk nekslag vir Arbeiders
2010-04-30 06:43
Leopold Scholtz
Den Haag - Historici kan dié oomblik toe die Britse premier, Gordon Brown, se skande voor die wêreld ontbloot is, moontlik later identifiseer as die punt waar die tans regerende Arbeidersparty finaal die verkiesing verloor het.
Dit was bedoel as een van daardie “spontane” ontmoetings waar ’n politikus in ’n arm woonbuurt rondloop en geselsies met mense aanknoop. Gillian Duffy van Rochdale, wat onderweg was om ’n brood te koop, het Brown tussen al die mense raakgesien en ’n vraag in sy rigting geroep.
Brown se luitenante het Duffy toe gaan haal en by die premier uitgebring. Sy het hom beleefd uitgevra oor die (na haar mening) negatiewe rol wat al die immigrante uit Oos-Europa in die land speel. Brown het ontwykend geantwoord, maar met ’n stywe glimlaggie gesê dit was “baie aangenaam” om haar te ontmoet.
Agterna in sy motor (hy het nie besef dat die mikrofoontjie wat Sky News op sy lapel vasgesteek het steeds aan was nie) het hy knorrig uitgevaar teen die vrou, wat hy “bekrompe” genoem het. Die gespek was ’n ramp, het hy gesê, en gevra wie die vrou na hom gebring het.
Dit was inderdaad ’n ramp. Sy private woorde in die motor is op TV en radio uitgesaai. Toe hy op televisie daarmee gekonfronteer is, het ’n ontstelde Brown sy kop wanhopig op sy hande laat sak.
Later het hy teruggekeer en 40 minute lank ekskuus gevra. Toe Duffy daarna gevra is of sy nog vir Brown gaan stem, was haar antwoord ’n kortaf “nee”.
Poniekoerante het skoon histeries geword. Stephen Glover het in die Daily Mail geskryf dit was ’n “onuitwisbare oomblik van waarheid en verheldering” oor hul “tweegesig-premier”.
- Die Burger