Brown in knyp ná pynlike blaps
2010-04-29 09:10
Sapa-AFP
Londen - Die Britse premier, Gordon Brown, is uitgevang toe hy ’n kieser ’n “skynheilige vrou” genoem het in ’n vernederende flater tydens die verkiesingsveldtog skaars ’n week voor die Britte stembus toe gaan.
Brown het kort daarna om verskoning gevra. Maar die voorval dreig om ’n skadu te gooi oor die veldtog voor eerskomende Donderdag se algemene verkiesing.
Die leier van die Arbeidersparty het kiesers in Rochdale, in die noordweste van Engeland, ontmoet. Hy het ’n bejaarde weduwee teëgekom en die grootte van die nasionale skuldlas, belasting en immigrasie met haar bespreek.
Kort ná dié gesprek is Brown in sy motor weggery, maar hy het steeds die mikrofoon aan hom gehad. Dit het uitsaaiers in staat gestel om te hoor hoe hy die ontmoeting met sy assistent bepreek.
“Dit was ’n ramp”, het Brown gesê. “Hulle moes my nooit by dié vrou gesit het nie – wie se idee was dit?
“Sy was ’n soort van skynheilige vrou.”
Die vrou, me. Gillian Duffy, het aan verslaggewers gesê sy wil hê Brown moet om verskoning vra vir sy “baie ontstellende” aanmerkings.
“Ek is baie teleurgesteld,” het Duffy, ’n lewenslange ondersteuner van Brown se Arbeidersparty, gesê.
“Hy’s ’n opgevoede mens – hoekom maak hy sulke stellings?”
Gevra of sy wil hê Brown moet terugkeer na 10 Downing Street ná wat hy oor haar gesê het, was haar reaksie: “Ek gee nie nou meer om of hy dit regkry of nie.”
Brown het later op BBC Radio om verskoning gevra:“Ek vra die betrokke dame inniglik om verskoning. Dit was glad nie wat ek van haar dink nie.”
Brown se regerende Arbeidersparty kom nou derde in die meeste meningspeilings, ná die Konserwatiewes en Liberale Demokrate.
Die Konserwatiewes was vinnig om die opmerking te veroordeel.
- Die Burger
Kyk die video en luister na Brown se aanmerkings hier: