Broers tronk toe vir terrorisme-sameswering
2011-03-22 23:00
Amman - ‘n Militêre hof in Jordanië het Dinsdag twee broers tot drie jaar tronkstraf elk gevonnis vir hul sameswering om Britse en Amerikaanse beamptes in die land in 2010 aan te val, het ‘n beampte gesê.
“Die staat se veiligheidshof het Alaeddin Abu Sarhan (28) tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Sy broer Mohammed (23) is ‘n soortgelyke vonnis opgelê,” het die hofbeampte gesê.
“Hulle is aangekla van sameswering om dade van terrorisme uit te voer.”
Hul regsverteenwoordiger, Hekmat Rawashdeh, het gesê hy beplan om binne 30 dae appèl teen die beslissing aan te teken “omdat dit onregverdig is”.
Luidens die klagstaat is Mohammed in 2003 na Irak “om teen die Amerikaanse troepe te veg, maar het na Jordanië teruggekeer ná die val van Bagdad. Hy het Alaeddin later oortuig om buitelandse beamptes in die koninkryk aan te val.”
Die twee mans het teikens oor die land heen begin indentifiseer.
“In Junie 2010 het Alaeddin drie voertuie naby Amman, waarin ‘n groep Britse en Amerikaanse soldate was, agtervolg.
“Hy het Mohammed gebel om hom te help om die voertuie aan te val, maar sy broer kon nie kom nie, aangesien hy besig was,” het die beampte gesê.
Veiligheidsdienste het ingeluister op die broers se telefoongesprekke en kon hulle só in hegtenis neem.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP