Britte nog kwaad vir Blair
2010-01-18 10:26
Anesca Smith
Londen – Byna ’n kwart van Britte glo hul oudpremier, Tony Blair, moet by die internasionale strafhof in Den Haag vervolg word as oorlogsmisdadiger vir sy rol in die Irak-oorlog.
Dit het aan die lig gekom in ’n YouGov-peiling wat Sondag in die Britse Sunday Times gepubliseer is.
Blair moet later vandeesmaand voor die Chilcot-komitee verskyn. Dié komitee stel ondersoek in na wat tot Brittanje se besluit, onder Blair se premierskap, gelei het om Irak in 2003 saam met Amerika binne te val.
Luidens die peiling meen 23% van die deelnemers Blair het die parlement en die publiek willens en wetens oor die oorlog mislei en moet vervolg word.
Daarteenoor het ’n soortgelyke peiling in 2003 getoon 56% van mense het die inval van Irak ondersteun omdat hulle daarvan oortuig was dat die destydse president, Saddam Hoessein, wapens vir massavernietiging versteek. ’n Driekwart het ook destyds geglo Blair sou Irak help heropbou en ophef ten bate van daardie land se mense.
Blair se omstrede destydse segsman, mnr. Alastair Campbell, het verlede week in sy getuienis voor die Chilcot-komitee volgehou die regering het in aanloop tot die oorlog die waarheid vertel.
Die nuutste peiling wys 49% van Britte glo Campbell het toe leuens verkondig en doen dit dus vandag steeds.
Meer as die helfte (52%) meen Blair het die Britse publiek opsetlik mislei om te glo Irak het chemiese en biologiese wapens wat tot massavernietiging kon lei.
Blair se opvolger, Gordon Brown, sal eers ná die algemene verkiesing, wat na verwagting in Mei plaasvind, voor die Chilcot-komitee verskyn om te getuig oor sy rol as minister van finansies toe Irak binnegeval is.
Intussen het die onlangse peiling ook gewys die Konserwatiewe Party is met 40% van die steun steeds die gunsteling om die verkiesing te wen, teenoor die 31% van die regerende Arbeidersparty. Altesaam 64% meen prontuit Brown vaar “totaal sleg” as premier. Altesaam 26% vertrou nie Brown óf die Tories se leier, David Cameron, om hul gesinne se lewenspeil te verbeter nie.
- Volksblad