Brittanje lugtig oor wapens vir rebelle
2011-03-31 08:29
Londen – Brittanje stem saam met die VSA dat die Verenigde Nasies regsgeldige gronde het vir die verskaffing van wapens aan Libiese rebelle onder sekere beperkte omstandighede.
Só het die Britse premier, David Cameron en die minister van buitelandse sake, William Hague, Woensdag in die Britse parlement gesê.
Hulle het egter aangedui daar is geen dringende voornemens om wapens na die rebelle te verskeep nie, aangesien hulle laat blyk het daar sal met groot omsigtigheid te werk gegaan word voor enige besluit geneem word.
Hague het ook bekend gemaak dat vyf Libiese diplomate in die Londense ambassade uit die land verban is, onder meer die militêre attaché, omdat hulle moontlik Brittanje se veiligheid in die gevaar stel.
Hy het verder gesê ’n Britse diplomatieke missie, onder leiding van die senior diplomaat Christopher Prentice, het die rebelle se vesting in Benghazi vandeesweek besoek, waar hulle die rebelle se nasionale oorgangsraad en militêre raad ontmoet het.
In afsonderlike vraagsessies het Hague en Cameron aangedui hulle glo die regsgeldige gronde om wapens aan die rebelle te verskaf berus op die verklaring Dinsdag deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, dat die Veiligheidsraad se Resolusie 1973 – wat die verskaffing van wapens magtig om burgerlikes te beskerm – die wapenembargo verswak.
Cameron het gesê hoewel die wapenembargo vir die hele Libië geld, laat Resolusie 1973 dit toe dat “alle nodige stappe” gedoen kan word om burgerlikes en burgerlike woongebiede te beskerm.
“Ons siening is dit verbied nie noodwendig die voorsiening van hulp onder sekere omstandighede aan diesulkes wat die burgerlikes beskerm nie... Ons het egter nie die besluit geneem om dit te doen nie.”
Cameron het gesê Brittanje sal met die uiterste omsigtigheid optree in die besluitnemingsproses oor die verskaffing van wapens.
Cameron het egter ook die leiers van die anti-Gaddafi-beweging lof toegeswaai.
Hy het gesê hy is gerusgestel dat diegene wat ’n alternatiewe regering in Benghazi daarstel wil hê dit moet ’n tussentydse instelling bly. “Hulle is demokrate, hulle is nie stamgebonde nie en hulle wil ’n toekoms hê vir die hele Libië, waar die mense ’n keuse het oor wie hulle sal regeer,” het hy gesê.
- Die Burger