Britse weermag gaan meer as duisend offisiere afdank
2011-12-20 08:54
Leopold Scholtz
Den Haag – Meer as duisend Britse offisiere sal in die komende jare afgedank moet word, blyk uit ’n vertroulike dokument van die Britse weermag wat in die hande van The Guardian beland het.
Alle range word daardeur geraak, maar senior range – dié van generaal, lugmaarskalk, admiraal, kolonel, vlootkaptein en groepkaptein – is nie uitgesluit nie.
Dit staan in ’n memorandum van mnr. Jonathan Slater, burgerlike direkteur-generaal van transformasie en strategie.
Meer as 700 poste moet in die volgende drie jaar en nog 335 voor 2020 gesny word. Veral op senior vlak is die Britse weermag tans heeltemal topswaar, dus sal daar aansienlik besnoei moet word.
“Die eenvoudige waarheid is dat die aantal senior range groter is as wat ons kan bekostig. Dit word as buitensporig beskou, gegewe die krimpende mannekragbasis en ook met moderne arbeidspraktyke en maatskaplike steun,” lui die dokument.
Brittanje het meer offisiere in die senior range as die meeste van sy bondgenote, word gesê. Die getal generaal-majoors, skout-admiraals en vise-lugmaarskalke sal van 152 tot 116 verminder moet word.
Ingevolge ’n plan wat in 2010 aanvaar is, word die Britse weermag oor die volgende sewe jaar met tot 60 000 militêre en burgerlike poste besnoei. Verskeie leërregimente en lugmag-eskaders word ontbind en skepe onttrek.
- Die Burger