Britse vloot en weermag vies oor besnoeiings
2011-06-15 08:30
Den Haag - Die hoof van die Britse vloot, adm. sir Mark Stanhope, het sy stert uit protes teen die koalisieregering se drastiese verdedigingsbesnoeiings gelig.
Die vloot sal nie die huidige operasie teen Libië veel langer as nog drie maande kan volhou sonder om sy verpligtinge elders te verminder nie, het hy in ’n voorligtingsessie by die vloothoofkwartier gesê.
Volgens die Daily Telegraph reflekteer die admiraal se woorde “die groeiende woede” in die vloot en die weermag oor die kwaai besnoeiings waartoe die regering besluit het. Die poniekoerant The Sun het die nuus selfs aangebied onder die opskrif “Dis muitery!”
Stanhope het gesê die vloot is in staat om die Libiese operasie ses maande lank vol te hou, waarvan drie maande reeds verby is. Ná die ses maande sal hy “moeilike besluite” moet neem en sy verpligtinge “herprioritiseer”.
“Ons kyk nou daarna. Dit kan wees in ons tuiswaters. Ek kan nie vooruit sien wat die besluit sal wees nie.”
Die vloot het tans een helikopterdraer, HMS Ocean, die torpedojaer HMS Liverpool, die mynjagter HMS Bangor en ’n duikboot van die Trafalgar-klas in die Middellandse See naby die Libiese kus.
Stanhope het gesê as die vliegdekskip HMS Ark Royal en sy Harrier-vegbomwerpers nie ooreenkomstig die besnoeiings vroegtydig uit die vaart gehaal is nie, sou hulle tans sonder twyfel in die Libiese operasie aangewend gewees het.
Dit sou ’n baie vinniger reaksie op die bedreigings van kol. Moeammar Ghaddafi se magte beteken het. Pleks daarvan om soos tans van die vliegbasis Gioia del Colle in Italië te opereer, wat ’n reaksietyd van anderhalf uur beteken, sou dit tot 20 minute beperk gewees het.
Dit sou ook baie goedkoper gewees het, het Stanhope gesê.
Volgens die huidige planne sal die Britse vloot eers in 2020 weer ’n vliegdekskip kry.)V.adm. Sandy Woodward, wat tydens die Falkland-oorlog in 1982 in bevel van die Britse taakmag was, het vandeesweek in ’n brief aan die Daily Telegraph geskryf as Argentinië die eilande nou sou wou beset, Brittanje “presies niks” daaraan sal kan doen nie. Die Britse weermag is met sy verpligtinge in Libië en Afganistan heeltemal ooreis.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger