Britse soldaat versamel glo Taliban-vingers
2011-08-08 15:25
Londen – Die Britse departement van verdediging het Maandag gesê ‘n ondersoek na die bewerings dat ‘n soldaat in Afganistan dooie Taliban-vegters se vingers afgekap en gehou het, is begin.
Volgens die poniekoerant The Sun het die soldaat van die Argyll en Sutherland Highlanders se vyfde bataljon in die Koninklike Regiment van Skotland, die versamelstukke bymekaargemaak terwyl hy in die suidelike provinsie van Helmand gedien het.
“Dit wil voorkom of hy die vingers van dooie Taliban-vegters afgekap het. Daar is gerugte dat hy hulle as aandenkings wou hou, wat uiters grusaam is,” het ‘n bron aan die koerant gesê.
“Die aantygings het die bataljon geruk. Dit word egter nog vir voor die handliggende redes onder die troepe stil gehou.”
“Slegs een soldaat is betrokke. Die toer in Afganistan was sy eerste en dit is moontlik dat die stres daarvan hom hierdie aaklige dinge laat doen.”
Die weermag se spesiale ondersoekeenheid ondersoek tans die gerugte.
Brittanje het nagenoeg 9 500 soldate in Afganistan om Taliban-magte te beveg.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP