Britse skrywer kry tronkstraf in Singapoer
2011-06-01 09:13
Singapoer - ‘n Britse skrywer wat ‘n boek gepubliseer het waarin hy die gebruik van die galg vir die doodstraf in Singapoer veroordeel, is Woensdag tronkstraf opgelê.
Alan Shadrake, wat ‘n boek geskryf het oor die gebruik van die galg vir dwelmhandelaars en moordenaars, het homself by Singapoer se hooggeregshof oorgegee.
Hy het Vrydag 'n appèlsaak teen die oplegging van die vonnis verloor. Dis die swaarste straf wat nog ooit vir dié soort oortreding in Singapoer gegee is.
Shadrake kon dit nie bekostig om die Sg$20 000 (R110 435) boete wat saam met die tronkstraf gaan, te betaal nie, daarom is sy tronkstraf met twee weke na agt weke verleng. Hy mag moontlik vroeër vrygelaat word vir goeie gedrag.
Hy is toegelaat om eers vir ‘n mediese toets te gaan voor hy sy tronkstraf begin uitdien.
“Ek voel goed. Ek dink Singapoer moet homself skaam omdat ek in die tronk gestop is,” het Shadrake gesê.
“Dit is nonsens dat Singapoer nie hierdie vryheid van spraak toelaat nie en iemand in die tronk sit vir hulle opinies.”
Sy boek se naam is Once A Jolly Hangman: Singapore Justice in the Dock.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP