Britse ouma wil appelleer teen doodsvonnis
2013-01-28 15:13
Denpasar – ‘n Britse ouma wat die doodsvonnis opgelê is ná sy kokaïen na Bali gesmokkel het, het Maandag gesê sy wil teen haar vonnis appèl aanteken, het ‘n beampte van die hof bevestig.
Lindsay Sandiford (56) is verlede Dinsdag die doodstraf opgelê nadat sy verlede Mei byna vyf kilogram kokaïen met ‘n waarde van $2,4 miljoen (R22 miljoen) na Indonesië gesmokkel het.
“Sy het vandag (Maandag) amptelik ‘n verklaring by die tronk ingedien waarin sy sê sy sal teen die vonnis appelleer. Die tronk het ons gevolglik gekontak,” het Gede Ketut Rantam, registrateur van die Denpasar-streekhof, aan AFP gesê.
“Sy het die verklaring op haar eie ingedien en sy het nog nie ‘n prokureur aangestel nie,” het hy bygevoeg.
Een van die gevangenes by die Kerobokan-tronk in Denpasar, waar Sandiford aangehou word, het aan AFP gesê die Brit "stres en huil die heeltyd”.
“Ons verstaan hoe sy voel, so ons los haar uit. Sy slaap op die matras en hou haarself besig deur te brei,” het die Indonesiese gevangene, wat ‘n sel met Sandiford deel, gesê.
Die appèlproses in Indonesië neem gewoonlik 'n paar jaar om te voltooi, insluitend uitgerekte sittings voor regters by die hooggeregshof. Daarna is 'n presidensiële kwytskelding die enigste uitweg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP