Britse man in China tereggestel
2009-12-29 08:26
Urumqi – China het Dinsdag ‘n Britse man tereggestel nadat hy daarvan aangekla is dat hy dwelms gesmokkel het.
Hierdie is die eerste keer in ‘n halwe eeu dat ‘n Europeër die doodstraf in China ontvang.
Brittanje se departement van buitelandse sake het die dood van Akmal Shaikh (53) bevestig. Shaikh se familie is van mening dat hy verstandelik ongesteld was en onwetend by die misdaad betrek is.
“Ek is geskok en teleurgesteld oor die nuus dat Akmal Shaikh tereggestel is, ten spyte van ons konstante versoeke aan die regering van China om genade te betoon. Ek is veral bekommerd oor die feit dat geen toetse gedoen is om sy geestesgesondheid te bepaal nie,” het Gordon Brown, Brittanje se premier, gesê.
Shaikh, wat op 9 Desember verlede jaar deur die hof in Urumqi tot die dood veroordeel is, is glo met ’n dodelike inspuiting tereggestel.
Hy is in hegtenis geneem kort nadat hy Xinjiang in die weste van China met sowat vier kilogram heroïen in September 2007 binnegekom het.
Volgens owerhede in China het Shaikh ‘n regverdige hofsaak gehad en was hy beslis nie verstandelik ongesteld nie.
–AP