Britse joernalis sterf in Afganistan
2010-01-10 17:48
Londen - 'n Britse joernalis, Rupert Hamer, is Saterdag dood toe die Amerikaanse weermagpatrolliemotor waarin hy gery het deur 'n bom getref is.
'n Amerikaanse en 'n Afgaanse soldaat is ook in die aanval in die suide van Afganistan oorlede, het die Britse weermag Sondag gesê.
Hamer (39) en sy kameraman, Philip Coburn (43), wat beide vir die Britse koerant Sunday Mirror gewerk het, was saam met die Amerikaanse weermag op patrollie in Nawa toe hul voertuig deur 'n handgemaakte bom getref is.
Coburn en vier soldate is ernstig gewond.
Volgens die Sunday Mirror het Coburn en Hamer op Oujaarsaand na die area gevlieg om daar by die Amerikaanse weermag aan te sluit. Die mediawerkers se besoek sou 'n maand geduur het.
Dit was Hamer se vyfde besoek aan Afganistan. Coburn was voorheen in Afganistan, Irak en Rwanda gestasioneer.
Die ontslape verslaggewer laat 'n vrou en drie jong kinders agter, het die koerant gesê.
- Sapa-AP