Britse betogings lei tot geweld
2009-09-05 21:29
Birmingham – Polisie in Birmingham het Saterdag meer as 20 mense in hegtenis geneem nadat geweld by ‘n protes-optog teen Islamitiese ekstremiste uitgebreek het.
‘n Optog deur die English Defense League (EDL) het tot geweldadige gevegte met groepe wat teen fasciste is in ‘n besige inkopiestraat gelei, ten spyte van die polisie se teenwoordigheid.
‘n Groep van meer as 20 mans wat op ‘n bus was is in hegtenis geneem na geweldadige gedrag in ‘n deel van Birmingham se middestad, terwyl ‘n 41-jarige man naby ‘n polisiestasie vir dieselfde oortreding vasgetrek is, het ‘n polisieverklaring gesê.
“Ander sporadiese uitbarstings het al voorgekom waar missiele gegooi is. Polisie amptenare is regoor die stad uitgestuur om hierdie uitbarstings te gaan beheer,” het dit ook gesê.
Polisie het gewaarsku dat hulle moeilikheidmakers hard sal vasvat nadat soortgelyke gevegte verlede maand ook uitgebreek het.
“Ons wil sê dat enigiemand wat moeilikheid wil maak, of hierdie betoging wil gebruik om enige ander kwessies behalwe Islamitiese Fundamentaliste, radikale Islam en Sharia aan te spreek , weggewys gaan word,” het die EDL op hulle webwerf gesê.
- Sapa-AFP