Brit vas vir dwelms in Indonesië
2013-02-19 14:19
Djakarta – ‘n Brit wat in Djakarta, die hoofstad van Indonesië, in hegtenis geneem is vir die besit van marijuana, kan tot 12 jaar tronkstraf gevonnis word indien hy skuldig bevind word, het ‘n polisiewoordvoerder Dinsdag gesê.
Kirk Elliott Neville (36), wat as ‘n Engelse onderwyser in die ooste van Djakarta gewerk het, is Saterdag vasgetrek toe ‘n sakkie met een gram marijuana sowel as twee daggasigarette in sy besit gevind is, het Didik Haryadi, polisiewoordvoerder van oos-Djakarta, gesê.
“Ná ‘n wenk van plaaslike inwoners het ons hom Saterdagaand in hegtenis geneem terwyl hy dagga by sy huis gerook het,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat Neville tot tussen vier en 12 jaar tronkstraf gevonnis kan word.
Die Britse ambassade het sy inhegtenisname bevestig en het sy hulp aangebied.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP