Brit vas oor fetusse vir toordery
2012-05-18 13:35
Bangkok – Ses menslike fetusse wat gebraai en met 'n goue blaar toegemaak is as deel van 'n toordery-ritueel, is in die besit van 'n Britse burger in Bangkok gevind, het die Thaise polisie Vrydag gesê.
Chow Hok Kuen (28), wat oorspronklik van Taiwan is, is Donderdag in die stad se Chinatown in hegtenis geneem, het die polisie gesê.
Die lyke is tussen bagasie gepak en was bestem vir Taiwan.
Die verdagte het die fetusse 'n paar dae gelede van 'n Taiwannese man in Thailand vir $6 500 (sowat R54 000) gekoop en het beplan om dit in Taiwan vir ses keer die bedrag te verkoop, het die polisie gesê.
Die oorsprong van die fetusse is nie bekend nie.
"Hy het gesê hy het beplan om die fetusse aan kliënte te verkoop wat geglo het dit sal hulle geluk en welvaart bring," het kol. Wiwat Kamchamnan van die Bangkok-polisie gesê.
Die man kan tot een jaar tronkstraf gevonnis word en 'n boete van 2,000 baht (sowat R535) opgelê word vir die besit van die fetusse.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP