Breivik se vonnis kán verleng word
2012-08-24 11:30
Oslo – Die selferkende massamoordenaar Anders Behring Breivik, wat Vrydag deur 'n hof in Oslo tot 21 jaar tronkstraf gevonnis is, se vonnis kan verleng word indien hy steeds as 'n gevaar vir die samelewing beskou word.
Regters het ook bevind dat Breivik tydens die aanvalle op 22 Julie by sy volle verstand was.
Breivik sal 445 dae minder in die tronk deurbring vir die tyd wat hy reeds in aanhouding was.
Hy het Vrydag ingenome gelyk toe regter Wenche Elisabeth Arntzen die uitspraak uitgelees en beslis het dat hy nie kranksinnig is nie.
Breivik het verlede jaar op 22 Julie eers 'n bom buite die regering se hoofkwartiere in Oslo geplant. Agt mense is in dié ontploffing dood. Hy het daarna 69 mense, waarvan die meeste tieners was, op die Utoeya-eiland doodgeskiet.
Hy het vroeër, tydens een van sy talle hofverskynings, gesê die vooruitsig van 21 jaar tronkstraf, indien hy skuldig bevind word, maak hom nie bang nie.
"In my siening is tronkstraf van 21 jaar 'n patetiese straf," het hy tydens sy kruisondervraging gesê.
In die eerste psigiatriese verslag is Breivik as "psigoties" en 'n "paranoïese skisofreen" beskryf. 'n Tweede verslag, deur 'n ander span, het bevind dat hy nie psigoties is nie en dus wettiglik verantwoordelik gehou kan word vir sy misdade.
Prokureurs vir die 33-jarige het vroeër gesê indien die regters bevind dat hy by sy volle verstand is, sal hy nie appèl aanteken nie. Die staatsaanklaers het gevra dat daar bevind moet word dat hy kranksinnig is.
Die maksimum vonnis onder die Noorweegse wet is 21 jaar, maar dié vonnis kan verleng word indien die gevangene as gevaarlik beskou word.
Sowat 500 joernaliste van 160 verskillende nuusorganisasies wêreldwyd het Breivik se uitspraak bygewoon.
– Volg Nuus24 op Twitter.