Brasilië: Minstens 150 sterf in nagklub-brand
2013-01-27 15:01
Brasilia – Minstens 150 mense is dood nadat 'n brand by 'n nagklub in die suide van Brasilië uitgebreek het, het die plaaslike media berig.
Volgens die BBC het die brand ontstaan toe 'n musiekgroep met 'n vuurwerkvertoning by die Kiss-nagklub in die dorp Rio Grande do Sul begin het.
Brasilië se Globo TV berig dat die meeste slagoffers weens rookinaseming dood is en liggame word steeds van die toneel verwyder.
"Brandweerdienste is opsoek na nog slagoffers. Ons kan nie 'n presiese dodetal gee nie. Mense het paniekerig geword en op mekaar begin trap," het die plaaslike brandweerhoof, Guido de Melo, gesê.
'n Joernalis op die toneel het aan 'n radiostasie gesê dat die nagklub 'n kapasiteit van 2 000 mense het.
Die klub het na bewering slegs een uitgang gehad en brandweerdienste moes 'n muur afbreek om die mense wat binne vasgekeer was te help ontsnap.
Die dodetal kan verder styg, het die joernalis gesê.
Honderde mense is in die hospitaal opgeneem.
Volg
Nuus24 op Twitter.
–
BBC