Brandstigter-bruid kry doodsvonnis
2010-05-26 16:20
Koeweit – Die appèlhof in Koeweit het Woensdag ‘n vrou die doodsvonnis opgelê nadat sy die tent by haar man se tweede huwelikseremonie aan die brand gesteek.
Altesaam 57 vroue en kinders is in die voorval dood, het Zaid al-Khabbaz, haar prokureur, gesê.
Nasra Yussef Mohammed al-Enezi is op 16 Augustus in hegtenis geneem, ‘n dag nadat 41 vroue en kinders in ‘n brand by ‘n troue in Jahra, wes van Koeweit-stad, gesterf het.
Die 23-jarige Enezi is in Maart skuldig bevind op aanklagte van moord en brandstigting met die doel om te vermoor. Sy het skuld ontken.
Daar was aanvanklik geglo dat Enezi die bruidegom se eksvrou is, maar volgens die verdediging is sy steeds met haar man getroud. Poligamie word hier toegelaat.
Enezi en haar man het twee kinders saam, albei van hulle is geestelik gestremd.
Indien sy tereggestel word, sal sy die eerste Koeweitse vrou wees om in die geskiedenis van die Golf-staat tereggestel te word.
Vroue van ander nasionaliteite is al in die verlede gehang.
Koeweit het al 72 mense tereggestel waarvan drie van hulle vroue was sedert hulle die doodstraf vier dekades gelede ingestel het. Die meeste van hulle is skuldig bevind van misdade soos moord en dwelmhandel.
- Sapa-AFP
Volg Nuus24 op Twitter.