Brand van Koran ‘idioties en gevaarlik’
2010-09-08 01:51
Washington – Die top-wetstoepassingsbeampte in Amerika het ‘n kerk in Florida se planne om op die herdenking van die 11 September 2001-aanvalle kopieë van die Koran te verbrand, as “idioties en gevaarlik” bestempel.
Prokureur-generaal Eric Holder het Dinsdag dié woorde gesê nadat hy met geestelike leiers vergader het oor maniere om ‘n anti-Islamitiese golf in Amerika te konfronteer, te midde planne van ‘n evangeliese pastoor om Saterdag ‘n seremonie te hou waartydens kopieë van die Koran verbrand sou word.
Pastoor Terry Jones het gesê die verbranding van die Koran-kopieë is daarop gemik om “dié te onthou wat op 11 September brutaal vermoor is,” en om ‘n boodskap te stuur aan “die radikale element van Islam”.
- Sapa - AFP