Brand op kernaangedrewe duikboot onder beheer
2011-12-29 19:37
Moskou – 'n Brand op 'n Russiese kernaangedrewe duikboot Donderdag in 'n Arktiese skeepswerf het geen bestraling-lekke of beserings tot gevolg gehad nie, het amptenare gesê.
Die brand op die Yekaterinburg-duikboot het uitgebreek terwyl herstelwerk daaraan by die Roslyakovo-skeepswerf in die Murmansk-streek gedoen is, het Irina Gretskaya, 'n woordvoerder vir die ministerie van noodgevalle se kantoor in die gebied, gesê.
Gretskaya het gesê die vlamme het houtsteierwerk by die duikboot verswelg. "Niemand is beseer nie en daar was geen bestralinglekke nie," het sy gesê.
Die duikboot se buitenste laag is beskadig.
Igor Konashenkov, 'n woordvoerder vir die Russiese ministerie van verdediging, het aan die Associated Press gesê dat die duikboot se wapens verwyder is, en dat die kernreaktor afgeskakel is voor die herstelwerk begin is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP