Brand by troue: vrou pleit onskuldig
2009-10-27 21:57
Koeweit – ‘n Vrou van Koeweit het Dinsdag in die hof skuld ontken op ‘n klag dat sy ‘n tent waarin ‘n troue gehou is aan die brand gesteek het.
55 vroue en kinders is in die brand dood.
Nasra Yussef Mohammad al-Enezi het slegs “nee” geantwoord toe regter Adel al-Sager vir haar gevra het of sy die brand gestig en die mense doodgemaak het.
Dit was al wat die 23-jarige gedurende die kort opening van haar verhoor gesê het.
Nasra het swak en bleek gelyk en het eers geweier om te praat nadat twee vroulike tronkbewaarders haar na die regter se podium geneem het.
Haar drie prokureurs het gevra dat sy vrygelaat word hangende die uitslag van die saak en beweer dat sy sleg behandel is deur amptenare van die tronk.
Die openbare aanklaer het geen argumente gedurende die verhoor aangevoer nie.
Die prokureur, Zaid al-Khabbaz, het aan verslaggewers gesê dat die vrou aangekla word van “voorbedagte moord en brandstigting met die doel om te vermoor.”
Nasra is op 16 Augustus in hegtenis geneem, ‘n dag nadat 41 vroue en kinders in ‘n brand by ‘n troue in Jahra, wes van Koeweit Stad, gesterf het. Die dodetal het later na 55 gestyg.
Daar is oorspronklik berig dat sy die man se eksvrou was, maar volgens haar prokureurs is hulle steeds getroud. Poligamie word hier toegelaat.
Prokureurs voer ook aan dat Nasra twee maande swanger was toe sy in hegtenis geneem is en is “opsetlik ‘n aborsie gee” deur ‘n tronkbewaarder, met die hulp van ‘n verpleegster.
Die regter sal later in die dag sy uitspraak lewer.
- Sapa-AFP