Brand: Werkers nie toegelaat om fabriek te verlaat
2012-11-28 17:59
Dhaka – Die polisie in Bangladesj het drie bestuurders van 'n klerefabriek, wat afgebrand en die lewens van 110 mense geëis het, in hegtenis geneem.
Bewerings het aan die lig gekom dat die bestuurders werkers verhoed het om die fabriek te verlaat en aangevoer het dat die brandalarm slegs vir 'n oefening was.
Habibur Rahman, die polisiehoof in Dhaka, het Woensdag aan AFP gesê dat die bestuurders Dinsdagaand in hegtenis geneem is.
“Oorlewendes het vir ons gesê dat hulle die werkers nie toegelaat het om te ontruim nie. Daar is ook bewerings dat hulle die deure gesluit het,” het Rahman gesê.
Die brand het Saterdag in die Tazreen Fashion-fabriek in die Ashulia-distrik, aan die buitewyke van die land se hoofstad, uitgebreek.
Volgens berigte is talle mense dood toe hulle by die gebou se vensters uitgespring het.
Die oorsaak van die brand, wat na bewering op die tweede verdieping ontstaan het, is nog onbekend.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP