Botter van 100 jaar oud gevind
2009-12-16 08:33
Wellington, Nieu-Seeland - Twee blokke botter is in goeie toestand in 'n hut in Antartika gevind, sowat 'n eeu nadat die Britse verkenner Robert Falcon Scott sy rampsalige ekspedisie van 1910-12 onderneem het.
Television New Zealand het berig dat bewaarders die twee blokke Nieu-Seelandse botter in sakke in die hut by Cape Evans in Antartika gevind het.
Die erge koue van die streek het die hut en die verkenningstoerusting preserveer, maar onlangse tekens van agteruitgang het die Antartika Erfenistrust genoop om 'n bewaringsprojek van stapel te stuur.
Lizzie Meek van die trus het die botter-vonds as 'n "skat" beskryf.
"Dit is ongelooflik hoe sterk die reuk nog is, honderd jaar later. Ek is egter nie seker of ek dit op my roosterbrood sal smeer nie," het sy geskerts.
Scott het die betrokke hut gebruik as die basis vir sy tog na die Suidpool, wat hy en vier ander verkenners op 17 Januarie 1912 bereik het. Hulle moes egter uitvind dat die Noorse verkenner Roald Amundsen hulle met vyf weke geklop het om die eerste mens te word wat die Suidpool bereik.
Scott en sy gevolg het almal gesterf op hulle tog terug na die hut toe.
- Sapa-AFP