Bosbrande in Atene uit beheer
2009-08-18 09:26
Atene – ‘n Groot bosbrand wat gister in sentraal Griekeland begin het is steeds uit beheer, maar na die windrigting verander het is dit nie meer ‘n bedreiging vir plaaslike gemeenskappe nie, het die plaaslike brandweer gesê.
“Ons werk nog hard om die brand onder beheer te kry,” het ‘n woordvoerder van die brandweer gesê. “Dit het van rigting verander en geen dorpies is nou in gevaar nie.”
Inwoners het Maandag tuinslange gebruik om die vlamme in Prodromos, ongeveer 100 kilometer van Atene, te blus.
Kinders en bejaardes is na die dorpsplein geneem as ‘n veiligheidsmaatreël, het die burgemeester aan ‘n radiostasie gesê.
Twee brandweer vliegtuie, vier helikopters, 26 brandweerwaens en ongeveer 90 brandweermanne werk in die area, het die woordvoerder vir die brandweer gesê.
Bosbrande, wat normaalweg deur hoë temperature, droogte of brandstigting begin word, is algemeen in Griekeland gedurende die somer.
In 2007 het ‘n 10-dag lange brand 65 mense se lewens geëis.
- Reuters