Bomme by oud-dokter gekry
2009-11-27 06:29
Ohio – Ongeveer 35 pypbomme, ‘n verskeidenheid van vuurwapens en honderde rondes ammunisie is in ‘n gewese dokter se woonstel gevind, nadat twee skote in sy woning afegaan het, aldus polisie.
Owerhede weet nie hoekom die man die vuurwapens gehad het, of wanneer hy dit sou gebruik het nie.
Die 56-jarige Mark Campano is Woensdag aangekla van die onwettige besit van ‘n pypbom. Indien hy skuldig bevind word, kan Campano tot tien jaar tronkstraf opgelê word.
Donald Hicks, Campano se prokureur, het gesê dit is nog te vroeg om kommentaar oor die saak te lewer.
Campano het glo aan ‘n beampte vertel dat hy besig was om sy haelgeweer te laai, toe dit in sy hande afgegaan het. Hy is met ernstige beserings aan sy linkerhand na ‘n hospitaal geneem. Hy is Woensdag gearresteer ná hy uit die hospitaal ontslaan was.
Die polisie het ook op chemikalieë in Campano se woonstel afgekom wat gebruik word om dwelms te maak, het sers. Gary Merton jnr. gesê.
- AP