Bomaanval eis een in Pakistan
2009-12-02 16:18
Islamabad – ‘n Selfmoordbomaanvaller het Woensdag toegeslaan op die vloot in Pakistan se hoofkwartier in Islamabad.
Volgens die polisie het ‘n vlootbeampte in die aanval gesterf.
Ooggetuies beweer dat die selfmoordbomaanvaller reguit op die ingang afgepeil het en probeer het om die kompleks binne te gaan.
Hy is deur wagte verhoed en het glo die bom laat afgaan.
“Een van die beamptes is in heelwat pyn en nog twee is in ‘n kritieke toestand,” het Fazeel Asghar, Islamabad se top-administratiewe beampte, gesê.
Bani Amin, ‘n senior polisiebeampte op die toneel, meen meer mense is in die voorval beseer. “Dit was ‘n selfmoordbomaanval. Vier mense is beseer en een is baie kritiek,” het hy gesê.
Volgens ‘n verslaggewer van AFP, wat op die toneel was, het stukke van die selfmoordbomaanvaller se liggaam oral voor die ingang van die kompleks verspreid gelê.
Hierdie aanval kom slegs ‘n dag nadat ‘n Pakistanse wetmaker ook in ‘n selfmoordbomaanval in die noordwestelike streek van Swat Valley gesterf het.
Die hoofstad Islamabad was laas in Oktober deur ‘n bomaanval getref, toe twee selfmoordbomaanvallers die Internasionale Islamitiese Universiteit getref het. Vyf mense het gesterf.
–Sapa, AFP