Bomaanval eis 4 burgerlikes
2009-09-27 09:10
Kaboel - 'n Bomaanval wat gemik was op Afganistan se energieminister het die lewens van vier burgerlikes geëis in die weste van dié land, aldus die polisie. 'n Taliban-verteenwoordiger het reeds verantwoordelikheid aanvaar vir dié ontploffing op Sondagoggend.
Pogings van die Taliban om Afghaanse amptenare te vermoor het hierdie jaar toegeneem, met meer as 100 aanvalle op regeringsamptenare en stamoudstes. Ongeveer die helfte van dié aanvalle was dodelik.
Volgens Raouf Ahmadi, 'n woorvoerder van die polisie, was die konvooi van Afganistan se energieminister, Ismail Khan, op pad na 'n lughawe in die westelike Herat-streek toe die bom buite 'n hoërskool ontplof het. Ahmadi sê vier burgerlikes het gesterf in die aanval, en 17 is beseer, insluitend vier van Khan se lyfwagte.
Volgens Ahmadi het Khan ongedeerd van die toneel weggekom, en veilig by die lughawe opgedaag.
'n Taliban-verteenwoordiger, Zabiullah Mujahid, het verantwoordelikheid aanvaar vir die bomaanval, wat volgens hom op Khan gemik was.
- SAPA