Bom teiken VSA-basis in Afganistan
2011-09-11 14:25
Kaboel – Bykans 80 Amerikaanse soldate is gewond en twee Afgaanse burgers het gesterf toe die Taliban ‘n bom naby ‘n Amerikaanse basis in die ooste van Afganistan gedetoneer het, het Navo Sondag gesê.
Die bomaanval val op die vooraand van die tiende herdenking van die 9/11-terreuraanvalle teen die VSA.
Volgens Navo het die terreurgroep die plofstof in ‘n vragmotor naby die kamp geplant.
Roshana Wardak, voormalige parlementslid wat ‘n kliniek naby die militêre basis bestuur, sê die ontploffing het Saterdag gebeur.
Volgens Wardak het die massiewe ontploffing selfs venters by nabygeleë regeringskantore gebreek.
Die Taliban het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.
Agt beseerde burgers is na Wardak se kliniek geneem. Sy sê ‘n driejarige meisie het aan haar wonde beswyk op pad na die kliniek.
Navo sê ‘n Taliban-selfmoordbomaanvaller het ‘n groot bom binne die vragmotor gedetoneer. Byna 25 Afgaanse burgers is ook in die aanval gewond.
Navo het bygevoeg dat geen van die Amerikaanse soldate se beserings lewensgevaarlik is nie.
Maj. Russell Fox, woordvoerder vir Navo, sê alle internasionale troepe by dié spesifieke basis is van Amerikaanse afkoms.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP