Bom ruk bussie, 13 dood
2011-07-02 19:49
Kaboel – 'n Bom wat langs 'n pad in die suide van Afganistan ontplof het, het Saterdag die lewe van 'n hele familie in 'n bussie geëis.
Dié voorval is die dodelikste in 'n rits aanvalle wat altesaam 18 burgerlikes gedood het, het amptenare gesê.
Volgens die ministerie van binnelandse sake was vier vroue en twee kinders onder die 13 mense wat in die jongste voorval in die Shamulzayi-distrik van die Zaboel-provinsie gesterf het.
Twee burgerlikes op 'n donkie is ook Vrydag in die Kandahar-provinsie dood toe die dier op 'n bom getrap het in die Maroef-distrik, het gen. Abdul Raziq, 'n polisiehoof, gesê.
Twee ander burgerlikes is dood toe 'n bom ontplof het ná 'n groep mense in die gebied aangekom het om die lyke van die eerste slagoffers te verwyder, het Maziq gesê.
Gewapende mans op 'n motorfiets het ook Saterdag Wakil Mohammad Khan, 'n lid van die plaaslike raad van die Nahri Sarraj-distrik in die Helmand-provinsie, doodgeskiet.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP