Bom eis vyf in Pakistan
2011-08-11 15:20
Peshawar – Twee bomaanvalle op dieselfde plek, slegs ‘n uur uit mekaar, het die lewens van vyf mense in Pakistan geëis.
‘n Afstand-beheerde bom het in die eerste voorval in Peshawar se Lahori Gate-gebied ontplof net toe ‘n polisievoertuig wat polisiebeamptes na hul eerste skof vervoer het, weggetrek het. Vier polisiebeamptes en ‘n seun wat verbygeloop het, is dood en 22 mense is beseer.
Slegs ‘n uur later het twee vroue in burkas na die area wat deur polisie bewaak was, geloop. Een van die vroue het ‘n handgranaat gegooi en die bom onder haar klere laat afgaan.
“Ek het gedink die meisie is swanger, want sy het stadig saam met die ander vrou geloop. Toe ek die mense om haar wou wegstoot, het iets ontplof,” het Himayat Ullah, ‘n polisiebeampte wat in die voorval beseer is, gesê.
Nagenoeg 35 000 mense is reeds dood in ‘n bloedige veldtog wat Islamitiese ekstremiste met Al Kaïda-bande teen die Westersgesinde Pakistanse regering voer.
– Volg Nuus24 op Twitter.