Bom eis polisievrou in Afganistan
2011-09-29 14:26
Kaboel – ‘n Polisievrou en twee burgers het gesterf toe ‘n bom ‘n polisievoertuig in die weste van Afganistan getref het, het beamptes gesê.
Die bom wat op ‘n motorfiets geplant is, is vroeg Donderdagoggend in die stad Herat gedetoneer.
Sayed Sharif Mohammadi, bevelvoerder vir die stad se polisie by die lughawe, sê die bom het onplof toe polisiebeamptes na die lughawe onderweg was.
“Een van ons vroulike polisiebeamptes is dood en vier ander polisievroue asook die bestuurder is in die ontploffing gewond...” het hy gesê.
Volgens Mohammadi is twee burgers ook in die voorval dood.
Die departement van binnelandse sake het die Taliban vir die aanval geblameer.
Hospitaalbeamptes sê ses burgers en vier polisiebeamptes is in hospitale opgeneem. Volgens ‘n dokter is die polisiebeamptes in ‘n kritieke toestand.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA