Bom eis 26 in Pakistan
2011-05-26 21:46
Peshawar – Ses-en-twintig mense is dood toe ‘n bombelaaide motor naby verskeie regeringsgeboue in Hangu in die noordweste van Pakistan ontplof het.
Die Taliban het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.
Die bom het naby verskeie regeringsgeboue, onder andere die distrikskommissaris se kantoor, ontplof.
Volgens die owerhede het 'n paar restaurante en privaat geboue egter die slegste daarvan afgekom.
Ten minste 26 mense is in die ontploffing dood en 56 is beseer.
Baie van die slagoffers was burgerlikes.
Sowat 400kg se plofstof is gebruik, het Masood Afridi, 'n polisiebeampte, gesê.
Sedert die klopjag deur Amerikaanse magte wat Osama bin Laden se lewe geëis het, het die Taliban verantwoordelikheid aanvaar vir verskeie bomaanvalle in Pakistan.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP