Bom by oord beseer 10
2011-08-28 20:00
Ankara (Turkye) – ‘n Klein bom wat Sondag ontplof het op ‘n strand in ‘n Mediterreense oord het ongeveer 10 mense, insluitende vier Swede, met ligte beserings gelaat.
Die ontploffing het op ‘n gewilde strand in die dorp Kemer in Turkye plaasgevind. Klippe het gespat en paniek is gesaai onder honderde sonbaaiers en swemmers, het die Dogan-nuusagentskap berig.
Volgens die agentskap is die ontploffing veroorsaak deur ‘n tyd-beheerde toestel wat tussen die sand en klippies begrawe is.
Die goewerneur se kantoor in Antalya het bevestig die mense is lig beseer in ‘n “klein ontploffing”, maar dat die oorsaak van die ontploffing nie onmiddellik bekend is nie.
Niemand het nog verantwoordelikheid vir die ontploffing aanvaar nie, maar Koerdiese rebelle wat om onafhanklikheid in die suide van Turkye vegi, het in die verlede dodelike aanvalle op toeriste-oorde uitgevoer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP