Man in tronk oor unieke Shakespeare-boek
2010-08-03 03:13
Londen – ‘n Werklose boekhandelaar, wat homself voorgedoen het as ‘n ryk pierewaaier, is Maandag tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat hy in besit was van ‘n gesteelde eerste uitgawe van Shakespeare se toneelstukke.
Hierdie unieke uitgawe van Shakespeare se werke word as ‘n rare “Engelse skat” beskryf.
‘n Jurie het verlede maand beslis dat die 53-jarige Raymond Scott nie die boek gesteel het nie, maar dat hy wel die gesteelde boek uit Brittanje geneem het.
Scott is in hegtenis geneem nadat hy die 1623-uitgawe van die boek sowat twee jaar gelede na die Folger Shakespeare-biblioteek in Washington geneem het.
Kundiges het hom dadelik aan die polisie gerapporteer. Die boek is in 1998 uit ‘n vertoonkas by die Durham-universiteit in die noorde van Engeland gesteel.
Scott beweer dat hy die boek in Kuba gevind het en het onskuldig gepleit op alle aanklagte teen hom.
Regter Richard Lowden het bevind dat Scott die boek gebruik het om ‘n “uitspattige rykmanslewe te onderhou” en om vroue te beïndruk wat hy in Kuba ontmoet het.
Scott het glo in ‘n geel Ferrari rondgery om mense te beïndruk ten spyte van die feit dat hy by sy bejaarde moeder woon en heelwat skuld het.
Chris Enzor, hoof staatsaanklaer, was verheug oor die vonnisoplegging. Volgens hom was Scott ‘n “oneerlike dief wat in die besit was van ‘n waardevolle skat”.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP