Boef stuur foto van homself na koerant
2009-11-09 01:34
Londen. – ’n Voortvlugtige Britse man was so vies oor die polisiefoto wat as deel van ’n openbare veldtog om hom op te spoor in sy plaaslike koerant gepubliseer is dat hy ’n duideliker foto van homself na die koerant gestuur het.
Die polisie in Suid-Wallis het as deel van ’n teenmisdaadveldtog in Swansea ’n foto van mnr. Matthew Maynard (23) aan die media uitgereik.
Hy word op ’n klag van huisbraak gesoek.
Toe die foto in die South Wales Evening Post verskyn, het Maynard nog ’n foto na die koerant gestuur waarop hy voor ’n polisievoertuig staan.
Die koerant se redaksie het dit terstond op die voorblad geplaas.
Die polisie het Maynard vir sy hulp bedank in die pogings om hom op te spoor.
“Almal in Swansea sal nou weet hoe hy lyk,” het die dankbare wetstoepassers verklaar."
– Reuters Life