Bloedspoor ná Australiese man ontvoer word
2011-12-06 11:02
Brisbane – Polisiebeamptes in die Filippyne het bloedvlekke naby die huis van ‘n Australiese man gevind ná hy in die suide van die land ontvoer is.
Brisbane Times berig Warren Richard Rodwell is Maandagaand in die kusdorp Ipil op die Mindanao-eiland deur gewapende mans ontvoer. Hy en sy Filippynse vrou bestuur ‘n winkel hier.
Felicisimo Khu, polisiedirekteur van die streek, sê Rodwell (53) is waarskynlik beseer aangesien die polisie bloedmerke naby sy woning opgemerk het.
Rodwell se ontvoerders het hom in die rigting van die nabygeleë kuslyn geneem. Lt.kol. Randolph Cabangbang sê die ontvoerders wou per boot na ‘n naburige eiland, waar hulle gewoonlik wegkruip, vlug.
Julia Gillard, premier van Australië, het in Canberra aan verslaggewers gesê die Australiese regering het ‘n taakmag saamgestel om die ontvoering te behartig.
Lees meer hier
Volg Nuus24 op Twitter