Bloed gaan spat in Thailand
2010-03-16 08:38
Bangkok – Betogers in Thailand het begin om hul eie bloed te skenk in ‘n plan om die Thailandse regering se hoofkwartiere daarmee te bevlek as ‘n simboliese offer om aan te dring op nuwe verkiesings.
Honderde rooi-hemp betogers het in lang toue gestaan sodat hul bloed deur verpleegsters getrek kan word.
Dit volg nadat hul leiers onderneem het om die ekwivalent van 1 000 koeldrankblikkies bloed bymekaar te maak om teen Dinsdagaand teen die hoofkwartiere se mure uit te gooi.
Rondom 100 000 sogenaamde rooi-hemp-betogers het Sondag in die hoofstad saamgekom om daar op aan te dring dat eerste minister Abhisit Vejjajiva die parlement teen die middag moet ontbind.
Vejjajiva het geweier en het sekuriteit in die hoofstad opgeskerp.
Hy het wel gesê dat die regering gewillig is om te luister na wat die betogers te sê het.
Gefrustreerde leiers van die betogers het die “bloed-offer” aangekondig, alhoewel dit ‘n tegniek is wat deur die Rooikruis as ‘n mors van tyd afgemaak word.
Dit is ook onhigiënies aangesien siektes soos hepatitis en MIV/vigs kan versprei as naalde gebruik word.
Weng Tojirakarn, een van die leiers van die betoging wat ook ‘n dokter is, het gesê dat die plan Abhisit se gewete sal toets.
“Die regering moet luister na die betogers. Alhoewel ons nie teen die middag kan reageer op hul beroep nie, is ons gewillig om te hoor wat hulle te sê het,” het Vejjajiva gesê.
- Sapa-AP