'Blaps' gee 200 bestraling
2009-10-13 11:05
Los Angeles - Sowat 206 pasiënte het tydens ‘n breinskandering (Gerekenariseerde tomografie /CAT-skandering) by die Cedars-Sinai-hospitaal in Los Angeles ‘n oordosis bestraling ontvang weens ‘n rekenaarfout.
Hospitaalamptenare het luidens ‘n verklaring gesê “‘n misverstand oor die standaard programmering van die masjien” het gelei tot ‘n oordosis bestraling.
Amptenare het gesê die 206 pasiënte het agt keer die normale hoeveelheid bestraling ontvang.
Die fout is vir die afgelope 18 maande onopgemerk.
Sowat 40% van dié pasiënte het as resultate van die bestraling van hulle hare verloor, het ‘n hospitaalwoordvoerder gesê.
General Electric, die skandeerders se vervaardigers, het gesê die fout het nie by die masjien gelê nie.
Die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) het na dié voorval ‘n beroep op alle hospitale gedoen om hulle skandeermasjiene weer na te gaan.
- Sapa-AP