Blair moet getuig in Irak-ondersoek
2009-07-30 22:45
London – Die voormalige Britse premier, Tony Blair, sal gevra word om voor ‘n paneel te verskyn wat die Irak-oorlog ondersoek.
John Chilcot, ‘n voormalige staatsamptenaar en hoof van die paneel, het gesê die ondersoek sal kyk na Brittanje se rol in die oorlog tussen Junie 2001 en Julie hierdie jaar.
Ander besluitnemers in die Britse regering sal ook gevra word om voor die komitee te verskyn.
Blair was aan die hoof van die besluit om 45 000 troepe na Irak te stuur tydens die inval van die land, gelei deur die VSA.
Die koalisie van lande wat deel van die inval uitgemaak het, het beweer dat Irak wapens vir massavernietiging vervaardig het.
Die beweerde wapens is nooit gevind nie, maar die land se president, Saddam Hoessein, is uit sy amp verwyder en later in Irak tereggestel.
- Reuters