Blair kanselleer dalk Londen-verskyning
2010-09-06 16:13
Londen - Tony Blair het gesê hy kan dalk 'n beplande openbare verskyning om sy outobiografie in Londen te bemark, te midde sekerheidsvrese kanselleer.
Die voormalige Britse premier het Maandag aan ITV-televisie gesê 'n beplande tekensessie by 'n boekwinkel kan onnodige kostes en werk vir die polisie veroorsaak.
Hy het gesê hy is ook bekommerd dat die Britse Nasionale Party dalk moeilikheid kan veroorsaak tydens Woensdag se verskyning.
Blair het gesê hy is bekommerd oor die potensiaal van onrus en oorweeg nog of die tekensessie moet voortgaan of nie.
Betogers wat uitgevaar het teen Blair se besluit om Irak in 2003 saam met Amerika binne te val, het hom Saterdag in Dublin met skoene en eiers bestook.
- AP