'Bin Laden skuil in Pakistan'
2009-11-30 10:37
Anesca Smith
Londen - Brittanje glo Osama bin Laden skuil in Pakistan en het Sondag groter optrede van hierdie land teen terreurgroepe in sy midde geëis.
“Mense wil weet waarom Bin Laden agt jaar ná 11 September steeds op vrye voet is,” het die Britse premier, Gordon Brown, in ’n onderhoud gesê.
Brown meen geduld is aan die kwyn met Pakistan se regering om doeltreffend teen verdagte terreurleiers soos Bin Laden, wat beskou word as die argitek agter die Amerikaanse aanvalle in 2001, op te tree. Hy vergader aanstaande week met Pakistan se regeringsleiers.
“Ons wil bewyse sien wat die regering daar doen om terreurgroepe te identifiseer,” het hy aan Britse televisiekanale gesê. Hy is oortuig daar is mense in Pakistan wat weet waar Bin Laden hom bevind en die regering moet optree.
Hy het toegegee vordering is gemaak teen die Taliban in Suid-Waziristan, ’n bergagtige gebied in die noordweste van Pakistan wat aan Afganistan grens.
“Agt jaar ná 11 September moet ons egter vra waarom niemand nog naby Osama bin Laden kon kom, hom gewaar of vastrek nie. Niemand kon nog daarin slaag om naby (Ayman) Zawahiri, die nommer twee in Al-Kaïda, te kom nie.
“As daar optrede aan ons kant is en Britse lewens word op die spel geplaas, wil ons weet dat daar ook doeltreffende optrede van Pakistan se kant is. Die feit bly staan dat Al-Kaïda ’n basis in Pakistan het om van daar lede in die buiteland te werf,” het Brown gesê.
Brittanje glo driekwart van die terreurkomplotte teen sy burgers word uit Pakistan beplan.
Brown het ook gesê Afganistan se pres. Hamid Karzai loop die gevaar om internasionale steun te verloor as hy nie noodsaaklike hervorming in werking stel nie.
Brittanje wil hê ’n bykomende 5 000 Afgaanse soldate moet teen aanstaande jaar in die provinsie Helmand opgelei word en soek ook na tekens van hervorming binne die land se polisiemag en regering in geheel.
Brown het twee weke gelede aangedui Londen kan straks volgende jaar die gasheerland wees om die strategie vir die onttrekking van buitelandse troepe in Afganistan te beplan.
- Die Burger