Bin Laden se eks-lyfwag skryf boek
2010-04-23 14:04
Sanaa - Yemeni Nasser al-Bahri, 'n voormalige lyfwag van Osama bin Laden, is die medeskrywer van 'n boek wat jong mense probeer oorreed om nie by Al-Kaïda aan te sluit nie.
Bahri het die boek saam met Georges Malbrunot, 'n Franse joernalis, geskryf.
Volgens Bahri is die hoofdoel van In the Shadow of Bin Laden "om jongmense te leer hoe om nee te sê vir ekstremistiese groepe soos Al-Kaïda."
Bahri verduidelik dat hy by Al-Kaïda aangesluit het omdat hy saamgestem het met die heilige oorlog teen die Weste.
Hy het egter gevind dat Al-Kaïda "nie baie oortuigend van die binnekant af" was nie. Hy het die organisasie in 2000 verlaat.
Bahri was verras dat Frankryk hom 'n visum geweier het om die boek daar te gaan bekendstel. Dié land beskou hom glo nog as 'n terroris.
Volgens Bernard Valero, woordvoerder van die ministrie van buitelandse sake, is Bahri se teenwoordigheid in die land "onvanpas".
- AFP
Volg Nuus24 op Twitter.